Geskiedenis

Met die 140ste bestaansjaar van PBS het daar reeds ‘n boek verskyn, waarin die geskiedenis van die skool volledig opgeteken is. Hier volg die hooftrekke van ons geskiedenis:

Die ontstaan van die “Infant Primary School”, 1873 – 1908:

Die ontdekking van diamante in die Wes-Vrystaat was indirek verantwoordelik vir die stigting van die “Infant Primary School” in Bloemfontein, aangesien die dorp baie begin uitbrei het.

Mej Dunn, ‘n onderwyseres uit Engeland, het op 7 Julie 1873 ‘n skool vir kleiner kinders in ‘n privaatwoning in St Georgelaan, begin. Teen 1888 is die skool na ‘n parallelmediumskool verander en die 21 kinders is in Engels, sowel as Nederlands onderrig.

In 1876 affilieer die skool met die Damesinstituut (later Eunice) waar meisies in Nederlands onderrig ontvang het. Die skool het tydens die Anglo-Boereoorlog bly voortbestaan, maar die Engelse invloed het weer sterker posgevat.

Die skool is op 10 Desember 1904 amptelik deur die Onderwysdepartement as staatskool oorgeneem. Daar is ook besluit dat die skool na Eerstelaan moet verskuif, en leerders tussen 4 en 12 jaar is onderrig.

Die skool in Eerstelaan, 1908 – 1986:

Die nuwe skool in Eerstelaan is op 14 Augustus 1908 amptelik deur adv. JBM Hertzog geopen.

Die skool was nog steeds parallelmedium en teen 1911 het die skool tot 80 leerders gegroei. Klasse moes nou ook vir std. 3 en 4 aangebied word.

Mnr. JDM Swart was die eerste manlike persoon wat hoof van die skool geword het in 1914. Daar was altesaam 121 leerders in die skool, 79 Engelse leerders en 42 Afrikaanse leerders.

Na die 1ste Wêreldoorlog in 1914 is die skool weer in 1917 heropen. Die leerdertal het tot by 156 gegroei en daar is vir die eerste keer na die “President Brand Public School” verwys. Die Brandfamiliewapen is as skoolwapen in gebruik geneem.

Teen 1921 is Afrikaans vir die eerste keer in die plek van Nederlands onderrig. Die eerste Voortrekkerkommando is op 26 April 1933 by PBS gestig en is dus die oudste Voortrekkerkommando in Bloemfontein.

Die amptelike skooldrag is in 1946 deur die hoof, mnr Grové voorgestel. Die hoofkleur sou donkerrooi wees, met blou, goue en groen strepe.

PBS se eerste skoollied is in 1945 in gebruik geneem. Dit was ‘n gedig wat deur een van die onderwyseresse getoonset is, maar die lied was egter veels te moeilik vir die kinderstemme. Mev Ferreira het toe ‘n nuwe lied geskryf en getoonset wat makliker was om te sing.

Die skool het in 1970 vir die eerste keer sy eie bus gekry. Die bus is “Kanniedood” gedoop en is later met ‘n nuwer bus vervang. Die bus is inderwaarheid ‘n “kanniedood”, aangesien hy nog steeds diens doen as skoolbus in die stad.

Die 100-jarige bestaansjaar is in 1973 gevier. Dit was ‘n groot fees met ‘n poppekas, ‘n voordragverskeidenheid, ‘n vlaghysseremonie en ‘n tuinparty op die skoolgrond.

Die leerdergetalle het van 1968 af geleidelik begin daal en teen 1984 was die skrif aan die muur. Dit was te wyte aan die feit dat die voedingsgebied van die skool ouer begin word en dat Westdene al hoe meer in ‘n sakegebied ontwikkel het.

Dit het daartoe gelei dat die nuwe skool in Pellissier gebou sou word. Aan die einde van 1986 is die laaste Saalbyeenkoms gehou, vir 78 jaar was die skool in Eerstelaan gesetel.

President Brand skool in Pellissier:

Op 13 Januarie 1987 het die skool sy deure vir die 1ste kwartaal in Pellissier geopen. Die personeel het uit mnr. Schoeman, waarnemende hoof, 3 onderwyseresse en ‘n sekretaresse bestaan. Die leerdertal het op 94 kinders gestaan. Die eerste Saalopening is in die NG Kerk Pellissier gehou, aangesien die skool nog nie ‘n saal gehad het nie. Dit was die begin van die jaarlikse Wydingsdiens aan die begin van die akademiese jaar, ‘n trotse tradisie wat nog steeds onderhou word.