President Brand Primêre Skool - 150 Jaar

Trotse Geskiedenis

Met die 140ste bestaansjaar van PBS het daar reeds ‘n boek verskyn, waarin die geskiedenis van die skool volledig opgeteken is.  Dus word die ontstaan en geskiedenis in hierdie jaarblad net kortliks weergegee.

 

Die ontstaan van die “Infant Primary School”, 1873 – 1908:

Die ontdekking van diamante in die Wes-Vrystaat was indirek verantwoordelik vir die stigting van die “Infant Primary School” in Bloemfontein, aangesien die dorp baie begin uitbrei het.

 

Mej Dunn, ‘n onderwyseres uit Engeland, het op 7 Julie 1873 ‘n skool vir kleiner kinders in ‘n privaatwoning in St Georgelaan, begin.  Teen 1888 is die skool na ‘n parallelmediumskool verander en die 21 kinders is in Engels, sowel as Nederlands onderrig.

 

In 1876 affilieer die skool met die Damesinstituut (later Eunice) waar meisies in Nederlands onderrig ontvang het.  Die skool het tydens die Anglo-Boereoorlog bly voortbestaan, maar die Engelse invloed het weer sterker posgevat.

 

Die skool is op 10 Desember 1904 amptelik deur die Onderwysdepartement as staatskool oorgeneem.  Daar is ook besluit dat die skool na Eerstelaan moet verskuif, en leerders tussen 4 en 12 jaar is onderrig.

 

Die skool in Eerstelaan, 1908 – 1986:

Die nuwe skool in Eerstelaan is op 14 Augustus 1908 amptelik deur adv. JBM Hertzog geopen.

 

Die skool was nog steeds parallelmedium en teen 1911 het die skool tot 80 leerders gegroei.  Klasse moes nou ook vir std. 3 en 4 aangebied word.

 

Mnr. JDM Swart was die eerste manlike persoon wat hoof van die skool geword het in 1914.  Daar was altesaam 121 leerders in die skool, 79 Engels en 42 Afrikaans.

 

Na die 1ste Wêreldoorlog in 1914 is die skool weer in 1917 heropen.  Die leerdertal het tot by 156 gegroei en daar is vir die eerste keer na die “President Brand Public School” verwys.  Die Brandfamiliewapen is as skoolwapen in gebruik geneem.

 

Teen 1921 is Afrikaans vir die eerste keer in die plek van Nederlands onderrig.  Die eerste Voortrekkerkommando is op 26 April 1933 by PBS gestig en is dus die oudste Voortrekkerkommando in Bloemfontein.

 

Die amptelike skooldrag is in 1946 deur die hoof, mnr Grové voorgestel. Die hoofkleur sou donkerrooi wees, met blou, goue en groen strepe.

 

PBS se eerste skoollied is in 1945 in gebruik geneem.  Dit was ‘n gedig wat deur een van die onderwyseresse getoonset is, maar die lied was egter veels te moeilik vir die kinderstemme.  Mev Ferreira het toe ‘n nuwe lied geskryf en getoonset wat makliker was om te sing.

 

Die skool het in 1970 vir die eerste keer sy eie bus gekry.  Die bus is “Kanniedood” gedoop en is later met ‘n nuwer bus vervang. Die bus is inderwaarheid ‘n “kanniedood”, aangesien hy nog steeds diens doen as skoolbus in die stad.

 

Die 100-jarige bestaansjaar is in 1973 gevier.  Dit was ‘n groot fees met ‘n poppekas, ‘n voordragverskeidenheid, ‘n vlaghysseremonie en ‘n tuinparty op die skoolgrond.

 

Die leerdergetalle het van 1968 af geleidelik begin daal en teen 1984 was die skrif aan die muur.  Dit was  te wyte aan die feit dat die voedingsgebied van die skool ouer begin word en dat Westdene al hoe meer in ‘n sakegebied ontwikkel het.

 

 Dit het daartoe gelei dat die nuwe skool in Pellssier gebou sou word.  Aan die einde van 1986 is die laaste saalbyeenkoms gehou, vir 78 jaar was die skool in Eerste laan gesetel.

 

President Brand skool in Pellissier:

Op 13 Januarie 1987 het die skool sy deure vir die 1ste kwartaal in Pellissier geopen. Die personeel het uit mnr. Schoeman, waarnemende hoof, 3 onderwyseresse en ‘n sekretaresse bestaan.  Die leerdertal het op 94 kinders gestaan.  Die eerste saalopening is in die NG Kerk Pellissier gehou, aangesien die skool nog nie ‘n saal gehad het nie.  Dit was die begin van die jaarlikse Wydingsdiens aan die begin van die akademiese jaar, ‘n trotse tradisie wat nog steeds onderhou word.

 

Tydens mnr. Potgieter se termyn as skoolhoof is verskeie uitbreidings aan die skoolgebou aangebring.  So is die Comitium (plek van vergadering) gebou, wat vandag as die PBS-sentrum bekend staan.

 

Die kleuterskool is op 19 Januarie 1994 geopen. In 2003 is die skool met ‘n veiligheidsheining omhein en in 2007 is besproeiing op die sportvelde aangelê.  Die ouditorium is in Augustus 2013 in gebruik geneem.

 

Die skoollied is in 2009 vernuwe, met ‘n nuwe toonsetting deur sangerkomponis, Phillip Kotzé.  In 2010 is die nuwe vlag, wat deur een van die leerders, Elri Groenewald ontwerp is, vir die eerste keer gehys.  Tesame met die vlag is die skool se gelukbringer, Vlammie, bekend gestel.

 

Oor die vraag of die skool weer van standplaas gaan verander en wat alles in die toekoms vir hom voorlê, kan niemand ‘n antwoord gee nie.  Een ding is seker, PBS sal sy leuse gestand doen: “Vincent aut mori!”.  Vir PBS sal dit beslis oorwinning beteken.

Skoollied

Die oorspronklike skoollied is geskryf en getoonset deur Mev Ria Ferreira en in gebruik geneem op 29 Oktober 1965. In 2007 het die Bestuurspan, met die goedkeuring van die Beheerliggaam, dit goedgedink om die toonsetting meer modern te maak. Mnr Phillip Kotze is hiervoor genader en nadat hy die nuwe toonsetting voorgelê het, is dit vanaf Julie 2008 tot September 2009 vir 'n proeftydperk ingeoefen en nie-amptelik gebruik. Hierdie nuwe toonsetting het beide die Beheerliggaam en Bestuurspan se goedkeuring weggedra. Op 22 Oktober 2009 is die nuwe toonsetting deur Mnr Phillip Kotze oorhandig aan die Skoolhoof, Mnr DGC Potgieter en is dit daarna amptelik in gebruik geneem.

Ons SKooldrag

Netjies vir elke dag

PBS se leerders is die advertensie van die skool en daarom is dit baie belangrik dat hulle ten alle tye netjies sal vertoon. As ons leerders trots is op hulle skool sal hulle ook trots wees op hulle skooldrag. Ons doen ‘n beroep op u as ouer om u kind met die korrekte skooldrag op die betrokke dae skool toe te stuur ten einde ‘n trots by die kinders te skep vir ons pragtige skool.

Somersdrag word gedurende Januarie, Februarie, Maart en April gedra, asook gedurende September, Oktober, November en Desember.

 

Formele drag

Formele drag word op Maandae, Woensdae en Vrydae, gedurende al vier kwartale, gedra.

 

Dogters:       

Maroen rok met ougoud kraag. Skoolrokke mag nie korter as 4 cm bo die knie wees nie. Dogters mag ‘n ski-pant onder die rok dra, maar die ski-pant mag nie onder die rok uitsteek nie. Sorg dus dat u dogter se rok lank genoeg is.

 

Seuns:

Grys kortbroek met wit hemp. Hemp is netjies ingesteek by broek. Grys kouse (PBS kouse met maroen en blou strepie) en swart skoene.

 

Wanneer leerders op uitstappies gaan, MOET hulle skoene dra by hulle skooldrag. Dogters dra wit kort kouse en skoene.

Wintersdrag word slegs gedurende Mei, Junie, Julie en Augustus gedra.

 

Formele drag

Formele drag word op Maandae, Woensdae en Vrydae gedra. Wintersdrag mag vanaf die begin van die tweede kwartaal gedra word, maar is verpligtend vanaf 1 Mei. Sorg dus reeds tydens die April vakansie dat u kind se wintersdrag in orde is. Volledige wintersdrag kan slegs op koue dae tot aan die einde van die derde kwartaal gedra word.

 

Dogters:

Winter-skoolrok of Maroen langbroek, wit langmouhemp, SKOOLDAS, trui en (formele) PBS skoolbaadjie of windbreaker met wit kousies en swart skoene. Alternatief kan die maroen wintersrok, SKOOLDAS, trui en PBS skoolbaadjie of windbreaker met swart “tights” en skoene gedra word.

 

Seuns:

Grys langbroek, wit langmouhemp, SKOOLDAS, trui en (formele) PBS skoolbaadjie. Grys kouse (PBS kouse met maroen en blou strepie) en swart skoene.

SPORTDRAG SOMER

Sportdrag word op Dinsdae en Donderdae gedra. Seuns dra maroen PBS kortbroek en PBS hempie met moue (nie atletiekfrokkie nie). Dogters dra PBS sport rompie en PBS hempie (nie atletiekfrokkie nie). Wanneer leerders op uitstappies gaan, MOET hulle tekkies by hulle sportdrag dra. Seuns en dogters dra wit kort kouse by hulle tekkies.


SPORTDRAG WINTER

Sportdrag word op Dinsdae en Donderdae gedra. PBS skoolsweetpak met PBS sporthempie met moue (nie atletiekfrokkie nie). Leerders kan ook ‘n koningsblou PBS fleece top onder hul sweetpak of saam met hul sweetpakbroek aantrek. Kort witkouse en tekkies.



  1. Geen bont langmou hemde mag onder die sporthempie aangetrek word nie.
  2. Onder geen omstandighede mag sport- en formele drag gemeng word nie.
  3. Leerders mag bv. nie ‘n sweetpakbroek by hulle poeierblouhemp aantrek of ‘n
  4. sweetpaktop in plaas van die PBS baadjie nie. Onder geen omstandighede mag
  5. skoolskoene by sweetpakke of tekkies by formele drag gedra word nie.
Ansa Francis
KLEREBANK

This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Skoolure

Wees daar op tyd

Intermediëre en Senior fase

07:30 - 13:30

Maandae tot Donderdae

07:30 - 13:00

Vrydae

Grondslagfase

Gr. 1

07:30 - 13:00

Maandae tot Donderdae

Gr. 2 en 3

07:30 - 13:15

Maandae tot Donderdae

Gr. 1 en 3

07:30 - 12:45

Vrydae

Finansies

Waar & Hoe om te betaal

Ons besef dat kontantbetalings vir uitstappies en ander skoolaktiwiteite tydrowend en frustrerend vir u as ouers kan wees. Die proses om die presiese bedrag kontant te vind en dit dan in ’n koevert te plaas, sodat u kind dit uiteindelik aan die klasonderwyser kan gee, is ‘n ongerief. Dikwels is dit ook moeilik om te onthou watter aktiwiteit op watter dag plaasvind en daarom, om verwarring uit te skakel, wil ons u aanmoedig om die gebruik van die Karri app positief te oorweeg.


Karri Betalings is ‘n innoverende mobiele betalingstoepassing waarmee jy vinnige betalings vir skoolaktiwiteite op jou selfoon kan maak. Hierdie toepassing (App) kan met enige Suid-Afrikaanse bank integreer en is POPI (Protection of Personal Information) in ooreenstemming met streng interne maatreëls om veiligheid en sekuriteit te alle tye te verseker. Ons het ‘n kontraktuele ooreenkoms met Karri Payments aangegaan om te verseker dat alle terme en voorwaardes gehandhaaf word. Karri word deur Nedbank bestuur wat ook ‘n versekering bied dat alle relevante veiligheidsmaatreëls vir alle transaksies in plek gestel word.


U sal ‘n e-pos en sms ontvang wat u vra om die toepaslike (App) af te laai. Nadat u die toepaslike (App) afgelaai het, moet u asb. ‘n profiel skep (Sign Up). Skep u profiel met dieselfde e-pos adres wat die skool gebruik om met u te kommunikeer. Indien u reeds ‘n Karri gebruiker is (‘n kind in ander skool wat Karri gebruik) dan kan u net inteken.


Let asseblief daarop dat die program nie die tradisionele betaling van u kind se skoolfonds sal vervang nie, dit bly dieselfde. As ouer, sal u vir geen addisionele koste ten opsigte van Karri Betalings verantwoordelik wees nie. Vir meer navrae of inligting, besoek asseblief die Karri-webwerf by www.karri.co.za.


Bankbesonderhede
President Brand Primêre Skool
ABSA Bank
Fichardtpark
Takkode : 632005
Rekeningnommer: 470147679

Sluitkassies

Hou dit veilig

Sluitkassies, waarin leerders hulle sportklere en/of toerusting kan toesluit, is beskikbaar aan die primêre skool se leerders. Klein Sluikassies beloop R150 per jaar of R50 per kwartaal. Groot Sluitkassies beloop R225 per jaar of R75 per kwartaal. Betalings word by Me. Ansa Francis gedoen. Elke leerder moet sy/haar eie slot verskaf. ‘n Spaarsleutel moet by Inge Webber ingehandig word. As daar van ‘n nommerslot gebruik gemaak word, moet die nommer ook aan haar voorsien word. Aangesien daar net ‘n beperkte aantal sluitkassies is, sal die leerders wie eerste betaal, eerste gehelp word.

 

‘n Aanbeveling is dat leerders wat vir namiddagsorg agterbly hiervan gebruik sal maak. Dit help om die leerders se besittings veilig te hou en dat dit nie maklik verlore kan raak nie.

Snoepie

Alles vir 'n dag se eet

Die skool se snoepwinkel is geprivatiseer. Die snoepwinkel lewer diens tydens skoolfunksies en buitekurrikulêre byeenkomste.
Leerders kan die snoepwinkel daagliks tydens eerste en tweede pouse asook ná skool besoek.

 

Maandag – Vrydag: 7:00 – 15:00
Saterdae: Slegs wanneer aktiwiteite plaasvind